Post Header

Gebruikers vra dikwels dat ons 'n Archive of Our Own – AO3 (Argief van Ons Eie – AO3) mobiele app skep en wonder hoekom ons dit nie reeds gedoen het nie. Ons het dit al voorheen in die kollig geplaas en dit selfs in ons Algemene Vrae ingesluit, maar die vraag kom gereeld genoeg voor dat ons 'n opgedateerde verduideliking wou gee oor hoekom ons nie 'n app het nie – en hoekom ons nie beplan om een te maak nie.
Derdeparty apps
Daar is nie 'n amptelike AO3 app nie. As jy 'n app teëgekom het of gebruik wat soos AO3 lyk, is dit nie 'n amptelik program nie en behoort dit nie aan die Organization for Transformative Works – OTW (Organisasie vir Transformerende Werke – OTW) nie. Hierdie apps word deur derde partye gemaak en is gewoonlik net gespesialiseerde webblaaiers wat AO3 anders laat lyk wanneer jy dit oopmaak.
Hierdie apps mag dalk advertensies bevat of vra moontlik vir betaling van hul gebruikers – iets wat AO3 nooit sal doen nie. AO3 laat nie advertensies toe nie en sal altyd gratis wees om te gebruik. Enigiemand wat geldelik baat deur toegang tot AO3 te vra (deur jou te dwing om advertensies te kyk, aan te dring dat jy betaal vir toegang tot werke, of subskripsie fooie vra om bykomende funksies te aktiveer) oortree die AO3 se Diensvoorwaardes.
Aangesien hierdie derdeparty apps nie deur ons beheer word nie, kan die ontwikkelaars van die programme toegang tot jou gebruikersnaam en wagwoord kry as jy deur hul apps by AO3 aanmeld. Jy vertrou beide dat die ontwikkelaar nie kwaadwillig is nie en dat hulle alle nodige voorsorgmaatreëls getref het om jou inligting veilig te hou. As jou gebruikersnaam en wagwoord aan iemand wat kwaadwillig is blootgestel word, kan hulle by jou rekening inteken om inhoud te plaas wat die Diensvoorwaardes oortree, jou werke uitvee, jou rekening se intekenbesonderhede verander sodat jy nie kan aanmeld nie, of selfs jou rekening uitvee.
Appwinkel beperkings
As ons wel 'n amptelike app sou ontwikkel, is dit onwaarskynlik dat ons dit deur die Apple App- of Google Play-winkels sou kon versprei. Beide het reëls teen "aanstootlike" of seksuele inhoud wat teenstrydig is met AO3 se beleid van maksimum inklusiwiteit van fanwerk-inhoud.
Apple se App Store-ontwikkelaarsriglyne (in Engels) bepaal dat "apps nie inhoud moet insluit wat aanstootlik, ongevoelig, ontstellend, bedoel is om te walg, van buitengewoon swak smaak is, of bloot grieselrig is nie", terwyl Google se inhoudstandaarde nie apps toelaat "wat seksuele inhoud of vloektaal bevat of bevorder nie, insluitend pornografie of enige inhoud of dienste wat bedoel is om seksuele bevrediging te verskaf" nie. Alhoewel beide appwinkels effens meer speelruimte bied vir gebruikersgegenereerde inhoud, laat hulle steeds slegs "toevallige" seksuele inhoud toe en waarsku hulle dat apps wat seksuele inhoud sterk vertoon, aktief bevorder of 'n reputasie daarvoor het, onderhewig is aan verwydering. Beide appwinkels vereis ook oor die algemeen dat appvervaardigers "aanstootlike" inhoud onmiddellik moet voorkontroleer of verwyder wanneer dit aangemeld word.
Om 'n app in enige van die appwinkels te hê sou vereis dat ons dramaties verander watter inhoud ons op AO3 toelaat, wat ons nie bereid is om te doen nie.
Alhoewel dit moontlik is om apps buite die Apple App- of Google Play-winkels te versprei, is dit 'n baie meer ingewikkelde proses met 'n baie kleiner gehoor. Ons verkies om ons pogings te fokus op die verbetering van die webwerf self, wat al ons gebruikers bevoordeel – ongeag watter toestelle hulle gebruik om toegang tot AO3 te verkry.
App alternatiewe
Wanneer mense uitreik om oor 'n AO3 app te vra, soek hulle gewoonlik spesifieke funksionaliteit. Baie funksies wat dikwels met apps geassosieer word (soos mobiele uitlegte, om jou plek te spaar wanneer jy wegtik, ens.) benodig nie eintlik 'n app nie.
Dit beteken ons ontwikkelaars kan sommige van hierdie app-agtige funksies implementeer as deel van hul gewone pogings om die webwerf te verbeter, sonder om ekstra tyd te bestee om 'n aparte app te maak. Dit is vir ons baie meer haalbaar om app-agtige funksies geleidelik by die bestaande webwerf te voeg as om 'n selfstandige app te skep.
Trouens, sommige van hierdie funksies is reeds beskikbaar. Ons het 'n paar van die mees algemene versoeke en hul bestaande oplossings hieronder versamel.
Verander hoe AO3 lyk
As jy wil verander hoe AO3 lyk, byvoorbeeld deur die kleure te verander of dit meer mobielvriendelik te maak, kan jy 'n voorkomsvel skep. Voorkomsvelle laat enigiemand toe om die manier waarop AO3 vir hulle vertoon, te verander. Daar is verskeie publiek beskikbare voorkomsvelle wat deur die voetskrif onderaan elke bladsy verkry kan word, insluitend Reversi wat AO3 se standaard "donker modus" is.
Indien jy nie van enige van ons standaard voorkomsvelle hou nie, kan jy ook jou eie skep. Verwys na ons Algemene Vrae oor voorkomsvelle en die argiefkoppelvlak of Voorkomsvel video tutoriaal (in Engels) vir meer inligting.
As jy nie jou eie voorkomsvel van nuuts af wil maak nie, kan jy 'n aantal gebruikers vind wat hul persoonlike voorkomsvelle deel onder die AO3 Site Skin (AO3 Voorkomsvel) etiket.
Tuisskerm kortpad
As jy makliker toegang tot AO3 vanaf jou toestel se tuisskerm wil hê, kan jy 'n kortpad byvoeg om AO3 langs jou ander apps te laat verskyn. Volg hierdie instruksies vir iOS (in Engels) of Android toestelle.
Lees vanlyn af
As jy toegang wil hê tot werke wanneer jy vanlyn af is kan jy hulle direk van AO3 na jou mobiele toestel aflaai. Ons bied 'n verskeidenheid aflaaiformate wat op 'n reeks programme en toestelle werk. Vir hulp met die aflaai van werke, verwys na ons Algemene Vrae oor die aflaai van fanwerke.
Onthou waar jy ophou lees het
As jy gereeld jou plek verloor wanneer jy 'n fanfik neersit, kan jy die notasafdeling van 'n private boekmerk gebruik om tred te hou met die hoofstuk of paragraaf waar jy gestop het. Of, as jy 'n werk aflaai om te lees wanneer jy vanlyn af is, sal baie e-leser programme jou plek outomaties stoor.
Luister na fanfik
As jy na fanfik wil luister in plaas daarvan om dit te lees, is daar 'n paar opsies. Jy kan die Podfic (Podfik)-etiket nagaan om oudio te vind wat deur ander gebruikers geskep is.
Indien daar nie 'n podfik is vir die storie waarna jy soek nie, kan jy Teks-na-Spraak sagteware gebruik om na 'n fik te luister. Die meeste mobiele toestelle sal een of ander vorm van Teks-na-Spraak funksie ingebou hê vir toeganklikheidsdoeleindes as jy deur die instellings soek. Sommige rekenaarblaaiers het ook 'n ingeboude Teks-na-Spraak funksie, dikwels as deel van 'n "reading mode" (leesmodus). Daar is baie oplossings, afhangende van jou spesifieke behoeftes, maar hier is 'n paar handleidings as beginpunt:
- Laat jou iPhone die skerm hardop lees(in Engels)
- Android: Gebruik Kies om te Praat(in Engels)
- Hoe om Reader View (Leseraansig) in Firefox te gebruik (in Engels)
- Gebruik Reading mode (Leesmodus) in Chrome (Rekenaar) (in Engels)
- Laat jou Mac teks op die skerm lees (in Engels)
- Gebruik Immersive Reader (Innemende Leser) in Microsoft Edge (in Engels)
Indien jy verdere vrae het oor AO3-webwerffunksionaliteit of oor 'n spesifieke "AO3-app", kontak die Ondersteuning-komitee vir hulp. Hulle hanteer tegniese ondersteuning met AO3 se huidige funksies, versoeke vir nuwe webwerffunksies en verslae oor nie-amptelike AO3-apps.
Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) is die nie-winsgewende ouer-organisasie van verskeie projekte, insluitend AO3, Fanlore, Oop Deure, TWC, en OTW Regsvoorspraak. Ons is 'n fan-bestuurde, volledig donasie-afhanklike organisasie beman deur vrywilligers. Vir meer inligting, besoek gerus die OTW webtuiste. Om meer te leer oor ons span van vrywillige vertalers, wat hierdie nuusberig vertaal het, besoek die Vertalingsblad.
